Die Ondersoek van GERS
Sekere ondersoeke is nodig om die oorsaak van die simptome van GERS na te gaan, die ekstensie van die siekte te bepaal, en sodoende die optimale behandeling na te streef. Dit is nodig om die toestand volledig te evalueer om te bepaal of die operasie wel nodig is, en of die pasiënt sal baat by die prosedure. Daar word ook bepaal watter tipe operasie geskik is vir die pasiënt.
Die volgende ondersoeke mag uitgevoer word:
Gastroskopie
Die slukderm en maag word ondersoek dmv 'n lang dun buigbare optiese instrument naamlik 'n gastroskoop. Hierdie apparaat kan veselopties wees of die meer moderne uitgawe nl. 'n video gastroskoop. Die videogastroskoop projekteer die beeld op 'n skerm. 'n Videobandopnemer of selfs 'n rekenaar kan verbind wees met die gastroskoop om die beeldmateriaal van die slukderm en maag digitaal te stoor. Spesiale digitale videofotodrukkers kan die foto reproduseer.
Voorbereiding vir Gastroskopie:
- Die pasiënt mag nie eet, drink of rook vanaf die vorige aand 22h00 nie. Geen antisuurmiddels of maagmedisyne moet geneem word in die 24 uur voor die ondersoek nie.
- Voor aanvang van die gastroskopie voltooi die pasiënt 'n inligtingsvorm wat al die vorige mediese geskiedenis weergee. Toestemming tot die uitvoering van die gastroskopie ondersoek en bewuste sedasie word onderteken.
- Die prosedure word uitgevoer met die pasiënt wat op die linkersy op 'n ondersoekbank lê. Die ondersoek word gewoonlik onder bewuste sedasie uitgevoer.
- 'n Suurstofmeter word aan die vinger aangebring om die suurstof konsentrasie in die bloed, asook die polsspoed te monitor.
- Die keel word soms verdoof met 'n lokale verdowing sproei. Die gastro-skoop word agter in die keel geplaas. Die gastroskoop word dan ingesluk en die slukderm, maag en eerste deel van die dunderm of duodenum word ondersoek.
- Tydens die gastroskopie word biopsies (stukkies weefsel) van enige verdagte letsels geneem. Die biopsies word na ‘n patologie laboratorium gestuur vir histologiese ontleding deur ‘n histopatoloog.
- Die biopsies word met ‘n spesiale biopsie tangetjie deur die gastroskoop se werkkanaal geneem.
Bewuste Sedasie
Die prosedure kan onder bewuste sedasie uitgevoer word. Dit kan vergelyk word met 'n ligte verdowing of narkose sonder om werklik te slaap, wat die ondersoek vergemaklik. Korttermyn geheueverlies is aanwesig vir die tydperk van die prosedure. 'n Binneaarse bui-sie word op die voorarm in 'n aar aangebring waardeur sekere middels binneaars ingespuit word om die sedasie te bewerkstellig.
Na die ondersoek word 'n omkeermiddel gespuit wat die effek van die bewuste sedasie omkeer.
Na afloop van die gastroskopie:
- Na 'n gastroskopie onder bewuste sedasie moet die volgende nagekom word:
- Geen voedsel of vloeistof vir die eerste uur na die ondersoek nie.
- Die keel is soms verdoof en verstikking kan voorkom.
Vir die res van die dag:
- Geen wetlike of bindende kontrakte moet onderteken word nie.
- Geen motorbestuur nie.
- Geen masjienerie moet gebruik word nie
- Geen alkohol mag ingeneem word nie.
- Ligte dieët of vloeistowwe mag later in die dag geneem word.
- Rus word aanbeveel vir die res van die dag.
- Ligte keel ongemak mag na die ondersoek voorkom.
- Enige nekpyn, borskaspyn of buikpyn moet onmiddelik aangemeld word by die spreekkamer waar die ondersoek uitgevoer is, of meld by die hospitaal aan.
Barium Sluk of Barium Video Sluk
Hierdie ondersoek word uitgevoer in 'n X-straal afdeling deur 'n radioloog. Die pasiënt drink barium ('n vloeistof wat sigbaar is op X-strale). X-straal fotos word geneem van die slukderm en maag. In sommige gevalle word die ondersoek opgeneem op 'n videoband.
Die slukderm se anatomie en funksie word verder nagegaan met die ondersoek. Gekompliseerde hiatus hernias, anatomiese afwykings of herhaling van hiatus hernia is dikwels ook ‘n indikasie vir die ondersoek. Die ondersoek kan dikwels addisionele inligting gee tot die gastroskopie.
Voorbereiding vir 'n Barium sluk of -maal behels dat die pasiënt nie mag eet, drink of rook van die vorige aand 22h00 nie.Geen antisuurmiddels of maagmedisyne mag geneem word in die 24 uur voor die ondersoek nie.
Barium kan soms hardlywigheid tot gevolg hê en 'n ligte purgeermiddel kan geneem word na die ondersoek, indien nodig.
Esofageale Manometrie
Hierdie ondersoek word uitgevoer om die spierkrag en sametrekking van die slukdermspier te bepaal, asook die krag waarmee die klep sluit en ontspan. Die ondersoek bepaal die drukke wat bereik word wanneer die slukderm saamtrek. Die lengte van die slukderm, hiatus hernia en onderste slukderm klep kan ook bepaal word. Abnormale slukderm sametrekkings en afwykings word ook identifiseer.
Die ondersoek word uitgevoer deur 'n dun buisie deur die neus, wat liggies verdoof is, te plaas. Die pasiënt sluk dan die buisie in tot in die maag. Die buisie is gekoppel aan 'n sensor wat die drukke registreer en vaslê op 'n rekenaar. Die ondersoek word in die spreekkamer uitgevoer en neem tot veertig minute. Na die ondersoek kan normale daaglikse aktiwiteite hervat word.
24uur ambulante pH metrie
Die ondersoek word uitgevoer om te bepaal of daar suur teruglek vanaf die maag na die slukderm . Die ondersoek word gewoonlik na die esofageale manometrie uitgevoer aangesien die klep se posisie bepaal moet word. Die pHmetrie ondersoek strek oor 'n 24 uur tydperk.
Die ondersoek bestaan daaruit dat 'n dun plastiekbedekte draadjie ('n elektrode) deur die neus geplaas word tot in die slukderm bokant die aansluiting tussen die slukderm en die maag. Die elektrode word gekonnekteer aan 'n klein digitale opnemer wat met 'n battery werk.
Punte om op te let tydens die 24 uur pHmetrie ondersoek:
- Die apparaat is baie duur en delikaat.
- Die apparaat mag onder geen omstandighede nat word nie.
- Normale aktiwiteit moet sover moontlik nagestreef word. Die pasiënt moet bv. nie heeldag gaan lê nie.
- 'n Normale dieet moet sover moontlik gevolg word.
Die volgende moet vermy word:
- Speserye.
- Suur voedsels soos tamaties, vrugtesappe, gaskoeldranke.
- Geen alkohol mag vir die tydsduur van die ondersoek gebruik word nie.
- Geen antisuurmiddels of koeksoda mag geneem word tydens die ondersoek nie.
- Indien enige persoon op 'n suuronderdrukkende middel soos bv. Tagamet, Zantac, Losec, Lanzor, Pantoloc, Pariet of Contraloc is, moet dit gestaak word twee weke voor die ondersoek.
Die uitvoering van die ondersoek.
Op die apparaat is 'n klein skerm wat die tyd aandui.
'n Vorm word aan die pasiënt verskaf. Die simptome wat ervaar word, asook die tyd wat op die rekenaarskerm verskyn moet op hierdie vorm noteer word. Die tyd notering is belangrik en word benodig om ‘n korrelasie tussen simptome en die pH in die slukderm te tref.
Na 24 uur meld die pasiënt weer aan by die spreekkamer, waar die elektrode verwyder, en die inligting na 'n rekenaar oorgedra word. 'n Ontleding van die ondersoek word uitgevoer. Verskeie grafieke word opgestel om die refluks te evalueer.
Ander ondersoeke
In sekere gevalle word ander of verdere ondersoeke benodig ter evaluering van die spesifieke probleem.
U sal dienooreenkomstig verwittig word in so 'n geval.









